Content

Tuesday 29 July 2014

Ons maak macarons by die African Pride 15 On Orange Hotel feat. Elzanne of Klet & Kook

Ons maak macarons by die African Pride 15 On Orange Hotel


Wat ‘n heerlike en pret ervaring was dit nie! Hierdie vermaaklike werkswinkel was eksklusief aangebied vir die Bloggers Who Bless-groep, en Klets & Kook kon beslis nie so ‘n geleentheid misloop nie.

Aangekom die oggend in die stad was ek aangenaam verwelkom met die mooiste reënboog wat oor die hoë grys geboue en berg gehang het. Ek het so ‘n paar kiekies met my kamerafoon al stop-ry-stop-ry geneem van die een verkeerslig tot die volgende. Ek is maar ‘n slegte multi-tasker en moes elke keer wag tot die verkeerslig rooi slaan om ‘n foto te kon neem.



Dit was my heel eerste besoek aan die African Pride 15 On Orange Hotel in Kaapstad en ek was nogal heel beïndruk met die goue bank wat jou groet in die hysbak  vanaf die onderste vloer tot by ontvangs. Dit is ‘n baie luukse hotel met moderne dekor en baie hoë glasvensters om natuurlike lig in te laat. Oral loop jy vas in uitspattige patrone, chroom-elemente en kleure van pers, grys en hier en daar selfs oranje. Die byderwetse Art Deco interior-ontwerp skep die gevoel van ruimte, luuksheid en klas en bekende persoonlikhede, parlementslede en baie groot korporatiewe kliënte besoek gereeld hierdie pragtige hotel. Die hotel spog met ‘n swembad, gim en gesondheidsklub, spa, restaurant, koffiewinkel, verskeie konferensie- en onthaalareas, 'n luukse kroeg en sitkamer asook ‘n besigheidssentrum.











Ons groep was baie vriendelik ontvang en verwelkom in een van die konferensielokale deur uitvoerende sjef Sanel Esterhuyse en pâttiserie sjef Retha wat ons sommer onmiddelik bederf het met vonkelwyn, koffie, tee, vrugtesap en die mooiste soethappies en heerlikste canapés. Ons het dadelik daaraan weggelê aangesien meeste van ons nog nie ontbyt gehad het nie! Toe ons magies eers lekker vol is en almal effens begin giggel het van die vonkelwyn, het ons twee-twee ‘n werkstasie ingeneem om te begin bak en brou.









Die werkswinkel het prakties afgeskop met ‘n meringue-maak sessie en die fokus was om die regte meringue-beslag te maak vir die perfekte macarons. Dit moet goed geklits en glad wees. Ek moet dalk net byvoeg dat macaron die regte Franse terminologie is en nie “macaroon” soos ons almal dit eintlik maar ken nie. Volgens Google Translate is die Nederlandse term daarvoor “bitterkoekjes”, wat nogal ironies is omdat meringue so vreeslik soet is.







Nadat ons heelik ge-oefen (en gemors) het om die meringue mooi in vormpies te druk met ‘n spuitsak, is ons gewys hoe om die amandelmengsel aan te maak vir die macarons en hoe om dit dan korrek te spuit sodat dit ‘n “voet” vorm. Daarna laat jy dit staan om eers ‘n effense doppie buite-om te vorm voordat dit gebak word.  Ons het sirkels op bakpapier as patroon getrek sodat ons baie mooi en versigtig die macarons ewe groot kon spuit, en daarna is dit kombuis toe gestuur om gebak te word.










Met almal se macarons in die oond, het Sanel en Retha vir ons gewys hoe om sjokolade ganache en ook gesoute karamel te maak waarmee ons daarna dan ons macarons gevul het. Ons het sommer ook lepelsvol daarvan net so geëet. Ek meen, hallo? Dis die dinge waarvan drome gemaak word! Niemand kon dit weerstaan nie.





Die werkswinkel is afgesluit met elke blogger wat haar macarons in ‘n glasflessie geseël en met lint en dekoratiewe papier mooi versier het om vir iemand anders as ‘n geskenkie te gee, en daarna het Sanel en Retha ons op ‘n vinnige toer deur die hotel geneem.  






Nie net was hierdie twee sjefs baie vriendelik, geduldig en hulpvaardig  met die lot van ons nie, maar het hulle ook hul macaron-resep gedruk en vir ons elkeen gegee om saam te neem sodat ons almal dit weer by die huis kan maak.  En jy kan natuurlik ook! Hier is wat jy jy nodig het en moet doen:
Bestanddele:
210g eierwitte, vry van olie of eiergeel
250g strooisuiker
250g fyn amandels of amandelmeel, vooraf gesif voor afgemeet
250g versiersuiker, gesif
Jou keuse van voedselkleursels
Metode:
  1. Voorverhit die oond tot 120ºC en plaas bakpapier in ‘n oondpan.
  2. Sif die fyn amandels drie keer en daarna die versiersuiker.
  3. Klits die eierwitte tot styf.
  4. Voeg die strooisuiker lepel vir lepel by die eierwitte en klits aanhoudend. Skraap die kante van die bak af soos nodig.
  5. Wanneer die eierwitmengsel dik en glad is, vou ‘n lepelvol daarvan by die amandel- en versiersuikermengsel.
  6. Voeg die kleursel by en vou in by die res van die eierwitmengsel.
  7. Gebruik ‘n spuitsak en spuit in sirkels op die bakpapier met ‘n 2.5cm spasie tussen elk.
  8. Laat staan vir een uur en bak dan vir 15 minute tot die macarons skoon en maklik vanaf die bakpapier opgelig kan word.
  9. Vul met ‘n vulsel van jou keuse, byvoorbeeld sjokolade ganache of gesoute karamel.
Baie dankie sjef Sanel en sjef Retha, tesame met African Pride 15 on Orange Hotel en Bloggers Who Bless, vir ‘n heerlike en pret macaron-werkswinkel. Julle diens en gasvryheid was puik en ek het die geleentheid vreeslik baie geniet! 

NS: Volgende keer kom besoek ek beslis julle spa!
{ Elzanne }

Om meer foto's te besigtig, kliek hier.

Klets & Kook 

0 comments:

Post a Comment

We value your input and any queries you may have and we will get back to you as soon as possible.
Thank you.
x Heather

Blog Archive

All items on this site remain the property of the Authors - #BWB. Powered by Blogger.